So jy weet al teen die tyd dat Donovan Tooth die drol is wat dames se natuurlike mooi liggaamstipes sleg sê en hoe vrouens soos ek (en tien ten een jy) basies afskuwelike wesens is wat nie welkom is op Planeet Donovan nie.
Donovan is ook die baas van ‘n oefenklere maatskappy wat nou skielik gaan ‘broader sizes’ aanhou om te probeer opmaak vir die fiasko. Um, te laat boetie, te laat.
Die probleem wat ek met die hele fiasko het, is dat hy iemand soos ek, wat daagliks sukkel met liggaamsdysmorfie (bodysmorphia) van vooraf in ‘n paniek het.
Sien, ek trek weer langmoue aan as ek gym en gaan staan eenkant in die studio, want hoeveel Donovans is daar nie in die gym wat dink ek is nie welkom nie?
Ek maak weer my baadjie oor my boude vas as ek gaan stap op Seepunt se promenade, want hoeveel Donovans dink nie ek lyk soos ‘n vet koei nie?
Ek eet meer, nie omdat ek honger is nie, maar omdat ek ontsteld is.
Kyk, ek was al maerder en moes myself uithonger om so te lyk. As ek nou terug kyk na foto’s kan mens duidelik sien ek was ondergewig al het ek vas geglo ek is so groot soos ‘n walvis. Ek was ook al oorgewig. Maar weet jy wat, nou is ek net oor dit. Oor hierdie ‘jy moet so en so lyk om so en so behandel te word’ stront.
Vandag kry ek hulp en dit gaan al beter. Ek weeg nie meer myself nie, ek weier. Ek weeg ook nie meer my kos nie, ek weier.
En al weet ek diep binne dat ek seker nie so groot is soos wat my brein my soms laat glo nie, maak mense, ek bedoel drolle, soos Donovan soveel meer skade as wat hy ooit sal besef.
Jy mors nie net met vrouens se lywe nie, maar ook met ons selfbeeld en ons gemoed.
Ek is so dankbaar dat vrouens stadig maar seker sosiale media begin gebruik om te wys rekmerke, selluliet en ‘n rolletjie is so normaal soos kan kom. Ons moet ophou skaam wees vir ‘normaal.’
Op die ou end van die dag weet ek dat ek en my liggaam gesond is. Ons eet en oefen mooi 80% van die tyd en dis buite my beheer hoe my gene en hormone die boodskap mag oordra. Ek voel goed, ek voel sterk en weet jy wat … ek voel mooi!
Onthou, al volg elke vrou in Suid Afrika presies dieselfde eetplan, gaan ons nog steeds anders lyk. As my metabolisme stadiger is as joune, wie gee om! As ek vet dra om my boude en jy om jou maag, wie gee om.
Als is dit nie altyd so maklik gesê soos gedaan nie – wees net elke dag die beste jy en skroef mense soos Donovan. Sy dag het gekom. Ons is nog nie klaar met hom of al die ander Donovans daar buite nie.
Onthou wat doen mens met ‘n drol? Jy spoel hom WEG!
#NormalizeNormalBodies
Always, Anne
Volg my asseblief op Instagram HIERSO.
Hoor, hoor! (Skop, suster, skop!)
LikeLiked by 1 person
Amen! 🙂
LikeLiked by 1 person